Met sò 'n hoë vlak van motordiefstal, motorkapings en motorongelukke op Suid-Afrikaanse paaie, is dit raadsaam om motorversekering uit te neem om jou voertuig teen verkeie voorvalle te beskerm.
Raak geletterd oor motorversekering en al die keuses, en moenie 'n vyfde wiel aan die wa wees wanneer jou vriende hulle polisse bespreek nie.
Daar bestaan hoofsaaklik drie tipes motorversekering, naamliks Derdeparty alleenlik, Derdeparty Brand en Diefstal, en Omvattende versekering.
Derdeparty Allenlik dek slegs aanspreeklikheid vir ander se beserings, skade aan ander se eiendom, aanspreeklikheid vir passasiers vir ongelukke deur hulle veroorsaak, en ongelukke as gevolg van 'n karavaan of sleepwa wat deur die voertuig gesleep is. Derdeparty Brand en Diefstal sluit dit alles in, maar ook skade as gevolg van brand of motor diefstal. Meeste mense kies egter Omvattende Versekering. Hierdie tipe versekering sluit gewoonlik bogenoemde kategorieë se dekking in, plus addisionele dekking vir ongelukke met jou eie voertuig, persoonlik ongeluksdekking, beperkte mediese uitgawes en die vervanging van gebreekte glas van die voorruit en ander vensters.
Jy moet nie sleg voel indien die versekeraar jou premie hoër as die van jou vriende s'n vasgestel het nie; – hou in gedagte dat premies bereken word deur 'n groot verskeidenheid kriteria in ag te neem, en daarom sal dit tussen individuë verskil. Jou premie word bepaal deur onder andere die model en ouderdom van jou voertuig, die bestuurder se ouderdom, ondervinding en bestuursgeskiedenis van die bestuurder, waar die voertuig gestoor word, ens. Boonop wil mans van hul kop af raak as hulle uitvind dat vroue-bestuurders se premies oor die algemeen laer is as gevolg van, volgens statistiek, die feit dat vrouebestuurders "meer veiligheidsbewus is, korter afstande ry, en minder ongelukke maak" as mansbestuurders!
In geval van 'n motorongeluk, probeer soveel moontlik inligting op die plek kry. Name en besonderhede van getuies, die ander bestuurder(s) en hulle versekeraars sal dit makliker maak om jou eis in te dien en die eis te finaliseer. Onthou ook om jou versekeraar so gou moontlik in kennis te stel van die ongeluk – meeste versekeraars vereis dit in elk geval.
En, ter afsluiting, indien jy beoog om versekeringsbedrog te pleeg deur jou voertuig "te laat kaap", dink weer: 'n Ondersoek gevuur deur eise wat ingedien is oor motorkapings kort nadat hul voertuie in Auto Trader geadverteer is, het gelei tot die arrestasie van drie persone wat by 'n kapingsindikaat betrokke was. 'n Nuwe sentrale databasis deur die versekeringsbedryf daargestel het ook ter lig gebring dat 'n kapingsindikaat 'n seker patroon volg deur 'n paar dae te wag voordat die voertuie as vermis aangemeld word. Dit gee die sindikaat genoeg tyd om die voertuig oor die grens te beweeg. Gelukkig is daar spesialle samewerking in sulke gevalle nou van toepassing by die grenspolisie.
Onthou, niks kan 'n pen in 'n ingeligte polishouer se wiel steek nie. Kry vandag nog 'n gratis kwotasie op motorversekering!